Ben Dehaeck
Ben Dehaeck is ’n akteur, dramaturg en lektor in Drama aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy speel ’n groot rol met die vestiging van die Breughel Teater in die bruin woonbuurt Cloetesville naby Stellenbosch.[1][2]
Lewe en werk
[wysig | wysig bron]Benoni Dehaeck is op 29 Desember 1922 in Roebrugge-Haringhe in België gebore. Hy bring sy vormingsjare in Vlaandere deur. Aan die Katholieke Universiteit van Leuven bekwaam hy hom as regsgeleerde en hy praktiseer as advokaat in Ghent tot 1965. Hierna kom hy na die Universiteit van Stellenbosch en is sedert 1965 ’n lektor by die Drama Departement van die Universiteit van Stellenbosch. As akteur speel hy hoofrolle in verskeie produksies in die H.B. Thom-teater, insluitende Macbeth (1967), Germanicus (1971), Die streke van Reinaard die Vos (1977), Legende van die liefde (1979) en Noag (1979). Hy is regisseur van produksies soos Yerma (1966), Koning Ubu (1968) en Die jakkalsstreke van Scapino (1986).
Hy speel ’n sleutelrol by die ontstaan en uitbreiding van die Breughel Teater in die bruin woonbuurt Cloetesville. Die finansiering hiervan word hoofsaaklik deur hom gedra, met die doel om ’n gemeenskapsentrum in Cloetesville op te rig waardeur mense na die teater gelok kan word. Hy bemoei hom sedert 1983 met hierdie gemeenskap toe hy begin met ’n dramagroep by die Hoërskool Cloetesville om drama in Stellenbosch te bevorder. Die Breughel Teatergroep spruit uit hierdie inisiatief en van 1983 begin hulle aan kompetisies deelneem, waarna hulle feitlik elke jaar die dramafees van die Departement van Onderwys en Kultuur van die Raad van Verteenwoordigers wen. In 1985 neem hulle met ’n Engelse drama deel en eindig tweede, terwyl hulle verskeie pryse vir beste akteurs, aktrises, dekor, byspelers en regisseur inpalm. Hierna word die Breughel Teater gebou en in 1986 geopen. Dramas soos Lusistrata, Noag, Kon-Tiki, Kneg van Twee meesters, die kinderprogram Doringrosie en skoolopvoerings van Die drie susters van Tsjechof tel onder die stukke wat onder sy leiding en regie opgevoer word. Ander opvoerings onder sy direksie sluit in Vanaand improviseer ons van Luigi Pirandello en Drie Dae Meester. Hy verwerk Euripides se Medea in Afrikaans onder die titel Medeia-Ballade. Hierdie produksie sluit dans, mimiek en dialoog in, word sterk beïnvloed deur Anouilh se verwerking en is eg Suid-Afrikaans in uitbeelding. Die opvoering hiervan deur die Breughel Teatergroep wen in 1996 die ATKV-prys by die Karoo Amateurtoneelfees.
Skryfwerk
[wysig | wysig bron]Saam met Herman Pretorius skryf hy die lang eenbedryf Die koningin en die nar.[3] Die koningin en die nar Touissant (wat beteken “Allerheilige aand) woon in die nar se vervalle woning wanneer die vreemdeling Gottfried (wat beteken “die vrede van God) daar opdaag. Die drie karakters maak beurte om op die troon te sit, simbolies van hoe die koning, die nar en die heilige periodiek die troon van elkeen se denke en selfsiening verteenwoordig. In sy vergaan ervaar die nar eindelik werklik die vrede van God. Die stuk lewer ’n deernisvolle blik op die basiese dinge op aarde, naamlik mag, liefde, dood en lewe, sowel as die neiging tot manipulasie in menslike verhoudings. In 1987 word Die koningin en die nar by die ATKV Kampustoneelfees opgevoer, met Dehaeck self in die rol van die nar, waarna dit ook by die H.B. Thom-teater opgevoer word.
Ander dramas uit sy pen is die eenbedrywe Doepie se troue, Oidipoes en Ballade van Rama en Mara (wat in 1975 vir die eerste keer opgevoer word). Vollengte dramas is Die spel van wit en swart wat in 1990 by Kampustoneel opgevoer word en Comedia rituale, wat in 1991 by Kampustoneel opgevoer word. Lucy Strata (’n Afrikaanse verwerking van Aristophanes se Lysistrata) is in 1986 die gesamentlike wenner van die Kellerprinz Dramafees, terwyl Die wraak van ex-koningin Bobbit in 1994 deur die Departement van Onderwys en Kultuur in die Wes-Kaap bekroon word as die beste Afrikaanse jeugdrama. Die Gangsters word vir die eerste keer in 1997 opgevoer en hy toer met hierdie opvoering deur België. By die 2016 Woordfees op Stellenbosch word hierdie drama weer opgevoer, ter viering van sy bydrae in Cloetesville met sy Breughel Teatergroep. In hierdie drama ondersoek ’n aantal sleutelkarakters oor kleur- en geloofsgrense heen voorveronderstellings van goed en kwaad in die samelewing. Die komiese danser het sy debuut in 1999.
Hy vertaal Carlo Goldoni se Kneg van twee meesters, Felix Timmermans en Eduard Veterman se En waar de ster bleef stille staan as Drie konings met die ster, Moliére se Scapino (waarmee hy in opvoering met die Breughel Teatergroep in 1987 die ATKV se hoofprys in hulle Amateur Toneelkompetisie wen) en Leo Tolstoi se Geskiedenis van ’n perd (wat in 1991 die ATKV se Amateur Toneelkompetisie wen en vir watter opvoering hy bekroon word met ’n erepenning vir die vindingrykste regisseur). Hy verwerk ook Euripides se Medea in Afrikaans onder die titel Medeia-Ballade.
Eerbewyse
[wysig | wysig bron]In 1990 verower hy ’n Vita-toekenning vir sy bydrae tot drama-opleiding en gemeenskapsteater in die Wes-Kaap en in 1997 verower hy ’n Fleur du Cap-toekenning vir sy lewenswerk in die teater. In 2004 ontvang hy ’n merietetoekenning van die Wes-Kaapse Departement van Omgewings- en Kultuursake uit erkenning vir sy buitengewone bydrae tot die uitvoerende kunste. Die Stellenbosch Erfenisprojek vereer hom in 2013 met ’n eretoekenning. Die ouditorium van die Breughel Teater in Cloetesville naby Stellenbosch word in 2014 na hom vernoem.
Bronnelys
[wysig | wysig bron]Boeke
[wysig | wysig bron]- Van Coller, H.P. (red.) “Perspektief en Profiel Deel I J.L. van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 1998
Internet
[wysig | wysig bron]- Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1998/03/05/4/8.html
- Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Ben_Dehaeck
- Human, Maria Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1989/01/06/4/27.html[dooie skakel]
- My Stellenbosch: http://www.mystellenboschstory.co.za/stellenbosch-heritage-projects-2013 Geargiveer 28 November 2017 op Wayback Machine
- Retief-Meiring, Martie Netwerk24: http://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/Hart-van-die-gemeenskap-klop-weer-20140731?mobile=true Geargiveer 30 April 2020 op Wayback Machine
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Kruger, Marie (16 Mrt. 2017). "Ben Dehaeck: Die man wat wou sterf in 'n kreatiewe oomblik - LitNet". LitNet - Die boekehuis met baie wonings. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Mei 2024. Besoek op 27 Mei 2024.
{{cite web}}
: Gaan datum na in:|date=
(hulp) - ↑ "Ben Dehaeck - ESAT". esat.sun.ac.za. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Mei 2024. Besoek op 27 Mei 2024.
- ↑ Elferink, Rita Die Burger 23 April 1987