Gaan na inhoud

Hilo

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Hilo

Kaart Wapen
Vlag
 Land Verenigde State
 Deelstaat Hawaii
 County Hawaii County
 Koördinate 19°42′N 155°5′W / 19.700°N 155.083°W / 19.700; -155.083
 Stigting
 Oppervlak:  
 - Totaal 151,4 vk km
 Hoogte bo seevlak 18 m
 Bevolking:  
 - Totaal (CDP, 2010) 43 263
 - Bevolkingsdigtheid 307,7/vk km
 Tydsone UTC -10

Hilo [ˈhiːlo/] is 'n sensusgebied (census-designated place, CDP ) aan die ooskus van die eiland Hawaii en die tweede grootste stad in die gelyknamige Amerikaanse deelstaatHonolulu met 'n bevolking van 40 759 mense volgens die sensus van 2000.

Hilo is die administratiewe setel van Hawai'i County en in die South Hilo District geleë. Naby die stad aan die Hilobaai rys twee skildvulkane: Mauna Loa, wat nog steeds as aktief beskou word, en die slapende Mauna Kea wat sommige van die beste aardgebaseerde sterrewagte huisves.

Hilo het reeds lank voor die aankoms van die eerste Europeërs 'n beduidende rol in die Hawaise geskiedenis gespeel en was naas Lahaina op die eiland Maui 'n belangrike handelsentrum in die eilandryk. Ná die vereniging van die ryk onder koning Kamehameha I, wat in 1753 naby die stad gebore is, het Hilo selfs ses jaar lank as die hoofstad van die Koninkryk Hawaii gedien.

Hilo is die setel van die Universiteit van Hawai'i te Hilo en beskik oor sy eie internasionale lughawe. Vanweë sy ligging aan die oostelike loefkant van die eiland Hawai'i is Hilo een van die reënrykste nedersettings in die deelstaat.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]
'n Nagtelike uitsig oor Hilo
Die Japannese Tuin van Lili'uokalani Gardens herinner aan die groot bydrae wat Japannese tot Hilo se ontwikkeling gelewer het

Alhoewel argeologiese bewyse skaars is, was die gebied langs Hilobaai en die Wailuku- en Wailoariviere al voor die aankoms van die eerste Europeërs bewoon. Teen die begin en die middel van die 19de eeu het die eerste Christelike sendelinge na die gebied gekom en verskeie kerke, waaronder Hailikerk, opgerig.

Hilo het saam met die plaaslike suikerbedryf gegroei wat talle Asiatiese gasarbeiders gelok het en uiteindelik tot 'n handelstad ontwikkel. 'n Hawehoof in Hilobaai is in 1929 voltooi.

Hilo is verskeie kere deur natuurrampe getref. Op 1 April 1946 het 'n aardbewing naby die Aleoete-eilande, wat 7,8 op die Richterskaal gemeet het, 'n tsunami met 'n hoogte van 14 meter veroorsaak wat Hilo ure later getref en 160 menselewens geëis het. As 'n reaksie hierop is 'n vroeë waarskuwingstelsel, die Pacific Tsunami Warning Center, ingestel om hierdie dodelike golwe op te spoor en die bevolking betyds te waarsku.

'n Tweede tsunami, wat op die vorige dag deur 'n 9,5-aardbewing voor die Chileense kus veroorsaak is, het op 23 Mei 1960 die lewens van 61 mense geëis nadat bewoners na bewering nie op die sirenes van die waarskuwingstelsel ag geslaan het nie. Laergeleë gebiede langs die baai op Waiākea-skiereiland en langs Hilobaai, wat voor die tsunami nog bewoon was, is ná die ramp omgeskep in parke en gedenkmonumente.

Sedert die 1960's het Hilo na die binneland uitgebrei. Die middestad het in die 1980's tot die kulturele sentrum van Hilo met verskeie kunsgalerye en musea ontwikkel.

Die sluiting van suikerplantasies gedurende die 1990's, wat met 'n algemene ekonomiese slapte in die hele deelstaat gepaard gegaan het, het 'n nadelige invloed op die plaaslike ekonomie gehad. Met die naburige Puna-distrik se ontwikkeling tot die vinnigste groeiende gebied in die deelstaat het ook Hilo weer 'n ekonomiese opswaai beleef, en sy bevolking het weer begin groei.