Gaan na inhoud

Inligting

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die ASCII kodes vir die woord "Wikipedia" voorgestel in binêr, die numeriese sisteem wat algemeen gebruik word om rekenaar-inligting te enkodeer.
Simbool wat die plekke waar meer inligting oor 'n onderwerp verkry kan word aandui.

Inligting (Engels: information) is die resultaat wat verkry word as data versamel, verwerk, gemanipuleer en georganiseer word op so 'n manier dat dit die kennis van die ontvanger verryk.

"Inligting" as konsep het verskeie betekenisse wat wissel van alledaagse gebruik tot tegniese betekenisse. Algemeen gesproke verwys inligting na kommunikasie, beheer, data, vorm, instruksie, kennis, mening, verstandelike begrip, stimulus, patroon en voorstelling.

Daar is geen aktiwiteit in die samelewing waarby informasie nie betrokke is nie. Toe die mens begin besef wat hy met die kennis kon doen wat uit inligting voortspruit, het daar feitlik 'n kennisontploffing plaasgevind. Terwyl dit vroeër as vanselfsprekend aanvaar is, word inligting deesdae doeltreffend benut en in 'n verskeidenheid van dissiplines toegepas. 'n Onderskeid kan gemaak word tussen natuurlike inligting, afkomstig uit biologiese, fisiologiese en ander wetenskaplike prosesse, en geskepte inligting, wat deel uitmaak van tale, kodes en tegnieke. Die kwantitatiewe benadering tot inligting vind uiting in die inligtingsteorie, terwyl die hantering daarvan inligtingverwerking behels.

Inleiding

[wysig | wysig bron]

Feitlik al die kennis waaroor die mens beskik, word op die een of ander manier opgeteken en bewaar en gereeld hersien. Daarvan getuig die miljoene boeke, tydskrifte, foto's, magneetbande, diagramme, formules en kaarte oor die hele wêreld. Terwyl kennis vroeër hoofsaaklik beperk was tot klein groepe mense, waardeur hulle 'n groot voordeel bo ander gehad het, stel die toeganklikheid van kennis vandag enigeen daartoe in staat om dieselfde voordeel daaruit te trek.

Met moderne kommunikasiemiddels soos posversending, telefoondienste, koerante en die radio- en televisienetwerke word inligting daagliks oorgedra en uitgeruil. Die waarde van sulke inligting word bepaal deur die mate van onsekerheid oor 'n toestand of gebeurtenis wat opgeklaar of verminder word. 'n Berig wat lui "1 + 1 = 2", bevat eintlik nie inligting nie omdat daar min twyfel oor die antwoord bestaan. Die berig dat 'n oorwinning in 'n wedstryd behaal is, bevat wel inligting aangesien 'n gelykopbeslissings of 'n nederlaag ook moontlik was, maar nie voorspel kon word nie. Om die waarde van die inligting te bepaal, moet die ontvanger bewus wees van die verskillende moontlikhede van die uitslag, anders kan hy nie die waarde van die inligting evalueer nie. Inligting oor toestande en gebeure word in numeriese en nie-numeriese inligting ingedeel en onder die versamelnaam data geklassifiseer.

Numeriese data bevat hoofsaaklik syfers en tabelle, terwyl nie-numeriese data meer beskrywende gegewens bevat. Die data vorm deel van die verkryging, die oordra, die berging, verwerking en ontleding daarvan tot die uiteindelike handeling. Die verkryging van die data sluit onder meer in waarnemings en naslaanwerk. Deur middel van kommunikasie word die inligting oorgedra en die handeling kan gou plaasvind, of dit kan geliasseer en gebêre word vir latere gebruik. Die verwerking sluit onder meer in die berekening en samestelling van statistiek waaruit sekere gegewens bekend word. Die gegewens word dadelik gebruik of gebêre. Sulke data kan betrekking hê op enige faset van die wetenskap, die tegnologie, die handel of die politiek. Met insae in die inligting word dit ontleed, hetsy deur 'n rekenaar of die mens self, waaruit sekere afleidings by en beslissings gemaak kan word.

Die kringloop, wat in wese neerkom op 'n wisselwerking tussen waarneming en handeling, het 'n patroon ontwikkel waarin navorsers begin belangstel het en wat aanleiding gegee het tot 'n studie bekend as die kubernetika. Daarvolgens toon al die verskillende inligtingdissiplines ʼn ooreenkoms ten opsigte van toestand, waarneming en reaksie. Inligting word in 'n verskeidenheid van dissiplines toegepas. Die suiwer wetenskap bestudeer inligting om meer te wete te kom oor die aard daarvan, waarnemings wat gedoen word en hoe dit oorgedra word. Wetenskaplikes lê hulle deurgaans toe op wat die hoeveelheid, betekenis en inhoud van inligting behels en probeer veral uitdrukking daarvoor vind in wiskundige terme. So is inligting meer verstaanbaar as dit kwantitatief (konkreet met syfers en vergelykings) voorgestel kan word. Op fisiologiese gebied kan inligting byvoorbeeld gebruik word in die senuweestelsel en die brein. Prikkels wat deur die senuweestelsel na die brein oorgesend word, verskaf waardevolle inligting oor die omgewing waarin die mens of dier verkeer.

Die senuweestelsel word ondersteun deur kliere in die liggaam wat hormone afskei en waar- op sekere liggaamsdele reageer. Die inligting wat in die hormone vervat is, word op 'n biologiese wyse deur die betrokke orgaan vertolk op grond van die genetiese kode. In die samestelling van die kode speel aminosure 'n belangrike rol. Kombinasies van verskillende aminosure vorm afsonderlik herkenbare eiwitte, en die reaksie van 'n orgaan word bepaal deur die opname van eiwit deur die proses van stofwisseling. Stofwisseling kan ʼn fisiese reaksie tot gevolg hê, deur byvoorbeeld die spiere te laat saamtrek, of dit kan 'n meer subtiele, psigologiese (sielkundige) stimulus aan die brein verskaf. Dit is stimuli soos hierdie wat 'n mens se gemoedstemming bepaal of daartoe lei dat 'n mens 'n beslissing kan neem. Verder het inligting ook betrekking op die verskillende kommunikasiemetodes, wat insluit tale, gebare en kodes en deel vorm van die media.

Die media omvat die middele en bedrywighede waardeur inligting verkry en oorgedra word. In sy primêre vorm word inligting verkry deur sintuiglike waarneming; so genoem na aanleiding van die mens se sintuie, naamlik reuk, smaak. gevoel, gehoor, gesig en selfs die mistieke sesde sintuig, te wete intuïsie. Waarneming behels verder ook ʼn verskeidenheid van aktiwiteite. So byvoorbeeld kan 'n persoon se optrede of 'n gebeurtenis bloot betrag word en 'n aantekening van die waarneming gemaak word sodat dit nie verlore gaan nie. Tydens 'n optrede of gebeurtenis word daar dikwels sake opgehaal wat op ʼn bandopnemer vasgelê kan word. 'n Voorbeeld van so 'n waarneming is die van 'n verslaggewer wat later ʼn verslag of 'n artikel moet skryf. Meer gevorderde aktiwiteite is dié van studente, navorsers en tegnici wat hulle toelê op die verkryging van inligting deur middel van wetenskaplike metodes.

Dit sluit in die gebruik van instrumente, meting, eksperimente en berekeninge. In die handel bestudeer klerke en sakemanne op hulle beurt byvoorbeeld syfers en gegewens en maak aantekeninge daarvan vir gebruik as sake-inligting. Wanneer inligting oorgedra word, moet dit verstaanbaar wees of ten minste reg vertolk kan word. Die vereiste vir waardevolle inligting is dat dit onsekerheid kan opklaar en tot 'n handelinglei. Dit is byvoorbeeld belangriker vir iemand om te weet watter pryse hy vir sy produk op die verskillende markte kan behaal as wat die waarde van sy produk is. wat hy waarskynlik reeds weet. Die persoon moet ook op die hoogte van ander moontlikhede wees. 'n Aanduiding van 'n markprys sal nie vir hom veel beteken nie tensy hy bewus is daarvan dat hy ʼn hoër of laer prys kan ontvang. Die mees algemene wyse waarop inligting oorgedra word, is deur middel van taal.

Die letters van die alfabet word so ingespan dat dit woorde en sinne met 'n bepaalde betekenis vorm. Benewens 'n taal kan inligting ook met behulp van simbole, seine en kodes verstrek word. Die oordra van inligting geskied deur kommunikasie, wat enigiets van 'n gebaar tot 'n berig wat per televisie oorgesend word, kan insluit. Nuusbriewe is byvoorbeeld 'n baie algemene kommunikasiemiddel. Dit word gewoonlik direk na iemand gestuur of 'n aantal daarvan word versprei.

Daar is ook tydskrifte en boeke wat gereeld gepubliseer word en oor algemene onderwerpe of oor gespesialiseerde vakrigtings handel. Die tegnologie bied ook die telefoon, die radio, die rolprent, televisie en rekenaars. Die telefoon is grotendeels verantwoordelik vir die rewolusie in kommunikasie omdat verdere ontwikkeling daaruit voortgespruit het. Die radio het die voordeel bo die telefoon dat dit meer mense kan bereik. Rolprente is weer kragtiger as die radio omdat dit oudiovisuele inligting verskaf. Televisie is egter die kragtigste omdat dit die groot dekkingsgebied van die radio met die oudiovisuele vermoë van rolprente kombineer. By rekenaars word inligting per datalyn van een plek na 'n ander oorgestuur.

Inligtingsteorie

[wysig | wysig bron]

Die Amerikaner C.E. Shannon het inligting op 'n wiskundige wyse benader en dit, net soos massa of energie, as 'n fisiese eenheid beskou. Hy het die bis gebruik om ʼn inligtingdeeltjie mee voor te stel. Daarvolgens bevat een bis die inligtinginhoud van 'n binêre keuse (keuse uit twee moontlikhede, wat voorgestel word deur die binêre syfers 0 en 1). Terwyl 1 bis 2 moontlikhede bevat (0,1), verskaf 2 bisse saam 4 keuses, naamlik 00, 01,10, 11. Met "n"-bisse is daar 2 moontlikhede, want 3 bisse het byvoorbeeld 2³ = 8 moontlike kombinasies, 4 het 2⁴ = 16, ensovoorts.

Wanneer 'n keuse tussen die twee moontlikhede van 'n bis gemaak word, is die waarskynlikheid dat ʼn mens een van hulle gaan kies, ewe groot. Die waarskynlikheid (p) van 'n keuse tussen 0 en 1 is dan p = ½. Gewoonlik bevat 'n inligtingbron meer as een bis, en om die inligtinginhoud te bepaal, moet die moontlikhede van elke bis afsonderlik beskou en 'n gemiddelde opgestel word. Die gemiddelde inligtinginhoud word die inligtingentropie (H) van 'n bron genoem.

Dit is minimaal (H = 0) indien 1 van die bisse 1 en die ander elk 0 is, en andersom, as 1 bis 0 is terwyl die ander elk 1 is. H is maksimaal as 0 en 1 eweredig tussen die bisse voorkom (p = ½). Hierdie teorie word geïllustreer deur die speletjie waar iemand byvoorbeeld aan iets dink en die ander deelnemers deur middel van 20 vrae probeer vasstel wat dit is. Elke vraag moet beantwoord word met 'n "ja" of " nee". Na aanleiding van die inligtingsteorie kan die waarskynlikheid wat elke antwoord oplewer, enigiets van 0 tot 1 wees.

As dit egter 'n ½ is, is die inligtinginhoud maksimaal. Om die meeste inligting te bekom, moet die vrae dus so gestel word dat die waarskynlikheid vir 'n ja- of nee antwoord ewe groot is. Wanneer die deelnemers byvoorbeeld vasgestel het dat daar 'n stad in 'n Afrikaland ter sprake is, sal ʼn goeie vraag, byvoorbeeld of dit suid van die ewenaar geleë is, die kontinent vir die deelnemers in min of meer ewe waarskynlike dele verdeel. As die antwoord dan "ja" is, sal die volgende vraag of dit noord van die Limpoporivier geleë is, die suidelike deel van Afrika weer eens in 2 moontlike helftes deel. Indien die moontlikhede aanhoudend in ewe waarskynlike helftes onderverdeel kan word, sal die vraestellers waarskynlik met 20 vrae kan vasstel watter stad dit is. Met hierdie metode kan 2²º (1 048 576) moontlikhede in 'n baie kort tyd ondersoek word. Met 'n aanduiding van die hoeveelheid en inhoud wat inligting behels, het Shannon hom toegelê op die spesifieke probleme wat betrokke is by kodering, die oordra daarvan en dekodering. Daar is min of meer 'n vaste patroon waarvolgens enige inligting oorgedra word. Van die oorsprongbron word informasie gewoonlik omgesit in ʼn kodevorm. Kodering kan die modulasie van 'n radiosein, die omsetting van 'n taal in 'n kode of die binêre kodering in rekenaars insluit. Daarna word dit deur 'n medium of kanaal oorgedra en by ontvangs word dit weer gedekodeer. Die meeste aandag word voortdurend aan tyd en foute bestee. Die tyd word beperk deur die kapasiteit van 'n kanaal, dit wit se die maksimum aantal bisse per sekonde wat die kanaal kan hanteer.

Die kapasiteit sowel as die transmissiesnelheid is eweredig aan die bandwydte van ʼn kanaal, wat die verskil is tussen die hoogste en laagste aantal bisse wat per sekonde in 'n kanaal oorgesend kan word. Terwyl die oordra van binêre kodes in 'n rekenaar byvoorbeeld plaasvind, is daar dikwels steurings (afkomstig uit die elektriese netwerk) aanwesig wat foute in die informasie laat voorkom. Waar 2 bisse, byvoorbeeld 00 oorgestuur word, kan dit maklik aan die ander kant ontvang word as 01,10 of selfs 11, wat almal geldige variasies van 'n 2-biskode is om dit te voorkom, kan die pariteit (binêre som) van die 2 bisse gebruik word om 'n 3-biskode op te stel. Die reëls vir ʼn binêre som is as volg:

0 + 0 = 0

0 + 1 = 1

1 + 0 = 1

1 + 1 = 0

Die 4 moontlike 2-biskodes, 00, 01,10, 11, word dan 000, 011, 101 en 110. 'n Steuring in die kanaal wat veroorsaak dat die kode 000 as 001, 010 of 100 daar uitsien, se fout sal dadelik herken word. Dubbele foute kan moeiliker opgespoor word en vereis ingewikkelder metodes. So word telekskodes byvoorbeeld uit 'n 7-biskode, waarin daar altyd 3 nulle en 3 ene moet wees, saamgestel. Die kode 0001 1 00 sal dus ongeldig wees. Volgens 'n ander metode word 'n sein 2 maal na mekaar oorgestuur en met mekaar vergelyk. Dit is onwaarskynlik dat die fout herhaal word aangesien steurings neig om heeltemal willekeurig voor te kom. Steurings veroorsaak dikwels ook dat daar oortolligheid plaasvind waardeur 'n 2-biskode, byvoorbeeld 01, as 101 ontvang word. Enige metode waarvolgens foute en oortolligheid uitgeskakel word, neem meer tyd in beslag. Vir die doeltreffendste oordrag word die normale sendtyd plus foutvoorkomingstyd teen die van die normale sendtyd plus die foutopsporingstyd uitgespeel.

Inligtingverwerking

[wysig | wysig bron]

Soos die benaming aandui, behels dit die hantering van inligting met die doel om sekere resultate te behaal, hetsy numeries of andersins. Om eenvormigheid te verkry, word informasie in kode omgesit wat vir die mens sowel as rekenaars van betekenis is, omdat daar toenemend op rekenaars gesteun word in die uitvoering van informasieverwerkings. 'n Ander woord daarvoor is dataverwerking, en dit is oorkoepelend ten opsigte van berekenings sowel as die samevoeging en sortering van gegewens. Vir kodering tydens dataverwerking het die bis as fundamentele eenheid vir informasiedeeltjies inslag gevind. Om die bis voor te stel, word die binêre notasie (0,1) gebruik en na gelang van 'n voorafgaande keuse kan die bis of 0, of 1 wees. Die bis is tweeledig van aard, in die sin dat dit enersyds 'n gemaklike formaat vir die omskakeling van letters en syfers tot binêre kodes verskaf en andersyds deur 'n rekenaar vertolk kan word.

Vir die omsetting van syfers kan ʼn 4-biskode byvoorbeeld gebruik word. So word die syfer 0 in die kode as 0000 voorgestel, 1 as 0001, en 2 as 0010, 3 as 001 1, 4 as 0100, 5 as 0101, 6 as 0110, 7 as 0111, 8 as 1000 en 9 as 1001. Omdat 0 volt deur 'n elektroniese rekenaar as 0, en 1 volt as 1 aanvaar word, vind die mens en die rekenaar aansluiting by mekaar. Op dieselfde wyse is daar ten opsigte van die alfabet onder meer die ASCI (American Standard for Coding of Information) geformuleer waar die letters met behulp van ʼn 8-biskode gekodeer word. Die letter A word byvoorbeeld verteenwoordig deur die 8-biskombinasie 01 00 0000. Met behulp van hierdie kodes word rekenaars gebruik vir die uitvoering van 'n oneindige aantal take wat die mens van baie beslommernisse onthef, omdat die roetine wat verbonde is aan dataverwerking veeleisend en vervelig kan wees.

Waar inligting vroeër op 'n tydrowende manier op papier verwerk is, word dit nou ingetik op die sleutelbord van 'n rekenaar, wat die inligting dikwels net so vinnig kan verwerk as wat die operateur dit kan invoer. Hieruit tree die fundamentele beginsel van invoer/uitvoer na vore tesame met die gedagte van die sogenaamde "black box". Die benaming " black box" spruit uit die metode waarvolgens 'n sekere begrip of gegewe deur 'n vierkantige blokkie (op papier) voorgestel en geïdentifiseer word sodat dit in kombinasie met ander soortgelyke voorstellings byvoorbeeld die verskillende stadiums van ʼn proses op papier voorstel. Hiervolgens kan enige bewerking gesien word as 'n stelsel van inset/verwerking/uitset.

As 'n sakrekenaar, soos die wat op skool gebruik is, volgens hierdie begrip benader word, kan die probleem wat aan 'n leerling gestel word (byvoorbeeld wat die som van twee getalle is), as die inset dien wanneer dit aan die rekenaar gevoer word. Die rekenaar doen dan die berekening (verwerking) en die antwoord dien as die uitset. Op dieselfde manier kan groter rekenaars benader word. Gegewens wat op die sleutelbord ingetik word, dien as die inset. As die rekenaar 'n bewerking doen, deur byvoorbeeld die gegewens alfabeties te rangskik, word dit beskou as die verwerk ing. Die alfabetiese lys wat die rekenaar verskaf, staan dan bekend as die uitset.

Die rangskikking word tydens die uitvoering van 'n rekenaarprogram gedoen, wat in werklikheid maar 'n stel instruksies is waarop die rekenaar reageer. 'n Rekenaar het voorts die belangrike eienskap dat dit besluite kan neem (decision making). In ooreenstemming met sy program kan die rekenaar, wanneer dit voor 'n keuse gestel word, die keuse maak na gelang dit oor 'n vooraf geformuleerde antwoord beskik. Terwyl verwerkings soos hierdie op 'n stelsel van dokumentasie gerig is, vind informasieverwerking ook toepassing op ander gebiede.

Een daarvan is die kubernetika, ook genoem sibernetika, wat hom besig hou met inligtingverwerking en kontrole by mense, diere, toestelle en masjiene. Lewende organismes of toestelle word gesien as georganiseerde sisteme wat in verhouding tot invloede van buite staan. Wanneer so 'n sisteem byvoorbeeld 'n impuls of steuring ontvang, sal dit daarop reageer. Met sogenaamde terugkoppeling (feedback) word 'n gedurige balans van die sisteem gehandhaaf, want sodra daar 'n afwyking ontstaan, word dit waargeneem en die balans in 'n reaksie herstel. Hieruit het 2 dissiplines, te wete die stelseltegniek en stelselanalise, ontstaan. Sisteemtegniek word geïllustreer deur die werking van 'n vlugnabootser waarmee vlieëniers opgelei word.

Die simulator dwing die gesimuleerde vliegtuig byvoorbeeld van koers af en die vlieënier, wat dit waarneem, stel die toestand reg deur 'n stuurstok te gebruik. Hierdie reëltegniek word ook gevind by outomate, servostelsels en ander kontrolesisteme. In sisteemanalise word daar op inligting gesteun vir doelbepaling en besluitneming. Deur middel van 'n kwantitatiewe benadering word daar onder meer in operasionele navorsing op ondervinding, berekenings en vooruitskatting staatgemaak wanneer groot ingenieursprojekte aangepak word. Verder is daar in die opsig ook 'n stelselontleding, inset- en uitset-analise, waarskynlikheidsberekening en prestasie-evaluering.

Verwysings

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]