Gaan na inhoud

Jeppes (kiesafdeling)

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Kol. F.H.P. Creswell, Volksraadslid vir Jeppes van 1910 tot 1915.
Henry Sampson, Volksraadslid vir Jeppes van 1920 tot 1933.
Dr. Hjalmar Reitz, Volksraadslid vir Jeppes van 1933 tot 1938.
Bertha Solomon, Volksraadslid vir Jeppes van 1938 tot 1958.

Jeppes was 'n kiesafdeling van die Unie-Volksraad van 1910 en die Volksraad van die Republiek van Suid-Afrika tot 1994 in die ooste van Johannesburg met as middelpunt die ou voorstad Jeppestown, genoem na (vanaf 1922 sir) Julius Jeppe en sy familie. Dit het van 1915 tot 1920 as Siemert bekend gestaan.

1910-1924

[wysig | wysig bron]

In die heel eerste verkiesing ná Uniewording in 1910 wen die Arbeidersparty se leier, kol. F.H.P. Creswell met 'n meerderheid van 97 teen R. Feetham van die Unionisteparty. Voor die volgende verkiesing, op 15 Oktober 1915, is Jeppes hernoem tot Siemert en die Arbeider Henry Sampson wen gemaklik met 316 stemme teen die Unionisteparty se A.E. Cowley, wat 593 stemme op hom verenig het. Sampson wen in 1920, toe die kiesafdeling weer Jeppes heet, met 'n meerderheid van 1 101 stemme teen drie ander kandidate, naamlik van die Nasionale Party, Onafhanklike Sosialiste en Unionisteparty. Sampson word in 1921 onbestrede verkies, maar kom in 1924 te staan teen D. Anderson van die Suid-Afrikaanse Party en wen met 'n meerderheid van 611. Daar was in daardie jaar 2 816 geregistreerde kiesers.

1929-1953

[wysig | wysig bron]

In 1929, nadat die Arbeiders in 'n Hoofbestuur- en 'n Cresswelliete-groep verdeel het, wen Samspon as Cresswelliet weer in Jeppes, dié keer met 'n meerderheid van 166 stemme teen H. Carter van die S.A.P. Die Arbeider-Hoofbestuur-kandidaat H. Carruthers was derde met net 101 stemme. Sampson verloor in 1933, die verkiesing waarin die Suid-Afrikaanse Party en die Nasionale Party as koalisie nie mekaar se kandidate teengestaan het nie, met 1 222 teen Hjalmar Reitz van adv. Tielman Roos se Sentrale Party.

Die Verenigde Party se Bertha Solomon wen in 1938 met 'n skrale meerderheid van 293 teen die Arbeider J.D.F. Briggs, terwyl die Gesuiwerde N.P. se N.J. van Schalkwyk derde kom. In 1943 verhoog Solomon die V.P. se meerderheid tot 3 596 teen H.J. Waldeck van die N.P.. 'n Onafhanklike en Afrikanerparty-kandidaat neem ook deel. Die onafhanklike C.M.L. Taljaard verloor in 1948 met 1 472 stemme teen Solomon, wat die derde keer verkies word. In 1953 is dit 'n tweestryd tussen die V.P. en N.P. Solomon behaal 'n meerderheid van 3 271 stemme teen E.B. Cuyler vir sy vierde en laaste oorwinning.

1958-1974

[wysig | wysig bron]

In 1958 wen die V.P. se F.J.C. Cronje eweneens gemaklik met 'n meerderheid van 3 834 teen die N.P. se P.R. de Jager. Van die 9 765 kiesers in Jeppes wat in 1960 aan die volkstemming oor republiekwording deelneem, stem 3 259 daarvoor en en 6 459 daarteen. In die algemene verkiesing die volgende jaar stel die N.P. dan ook nie 'n kandidaat nie en Cronje word onbestrede verkies. Net soos in Florida en Benoni, slaag die N.P. in 1966 die eerste keer daarin om Jeppes te wen toe M.W. Botha 621 stemme meer as Cronje kry. En net soos in die ander twee setels, wen die V.P. Jeppes terug in 1970, toe Botha met 613 stemme verloor teen H. Miller, wat in 1974 onbestrede verkies word.

Partye en kandidate gewen

[wysig | wysig bron]

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • Amptelike Jaarboek van die Republiek van Suid-Afrika 1983. 1983. Johannesburg: Chris van Rensburgpublikasies.
  • Schoeman, B.M. 1977. Parlementêre verkiesings in Suid-Afrika 1910-1976. Pretoria: Aktuele Publikasies.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]