Gaan na inhoud

M.J. Harris

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Machiel Johannes (1914–1971) was ’n Afrikaanse skrywer en digter.

Lewe en werk

[wysig | wysig bron]

Machiel Johannes Harris was op 16 Februarie 1914 op Wakkerstroom gebore. Sy vader is die boer Jacobus Albertus Harris (1868–1965) en sy moeder is Aletta Dorothea Coenradina Keet (1894–1937). Op baie jong ouderdom verhuis hy saam met die gesin na die Louwsburg distrik, waar Zoeloe die eerste taal is wat hy kan praat. Wanneer hy vyf jaar oud is, trek hulle na die Paulpietersburg distrik. Hy gaan skool op Wakkerstroom en later op Volksrust, waar hy in 1932 matrikuleer. Daar is nie geld om hom verder te laat leer nie en in 1933 tree hy in diens van die Departement van Justisie se Magistraatskantoor te Bulwer. Hy skryf sy Regseksamens en vra dan in 1934 om ’n verplasing na Pietermaritzburg om sy studies aan die Natalse Universiteitskollege voort te sit. Hier studeer hy deeltyds vanaf 1935 en behaal in 1937 sy B.A.-graad. Die digter D.J. Opperman is een van sy medestudente en hulle deel in hulle eerste jaar die medalje vir beste prestasie in Hollands I [1] In 1940 trou hy met Elizabeth Susanna Laatz en die egpaar het twee seuns en ’n dogter. Vanaf 1938 is hy lank in Durban en daarna op verskeie ander plekke in die land werksaam by die Departement van Justisie, toe Naturellesake en toe weer Justisie. Die gesin verhuis later na George, waar hy as assistent-magistraat in die Magistraatshof diens doen. Hy is op 18 November 1971 aan keelkanker in Mosselbaai oorlede, waar hy ook begrawe word.

Skryfwerk

[wysig | wysig bron]

Reeds op agttienjarige ouderdom begin hy skryf, terwyl hy nog op skool is. Die aanleiding hiertoe is ’n opstel wat die klas moes skryf oor “’n Sonsondergang”, wat sy onderwyser so goed vind dat hy dit vir die hele klas voorlees. Later verwerk hy hierdie opstel in ’n verhaal wat in 1934 as “Ou Madie” in Die Huisgenoot verskyn. Sedertdien skryf hy talryke gedigte, sketse en verhale wat in Die Huisgenoot, Die Brandwag, Die Staatsamptenaar en ander tydskrifte verskyn. Hierdie kortverhale, waar die inheemse volkere en veral die Zoeloes baie keer onder die loep kom, bundel hy in “Bruisende waters” en “Uit die buurt”. Die titelverhaal in “Bruisende waters” beskryf die verleiding van ’n jong vrou deur ’n geslepe skurk. Treffend is die beskrywing van die lewenswyse van ’n swart Christen en die ontaarding van die swart mense in die Westerse leefwyse van Johannesburg. “Wynand Pienaar” is ’n roman. In 1936 ding hy mee om ’n prys wat uitgeskryf word deur die Deutsche Akademie in München en hy verower die Humboldt-medalje met die essay “Die Bedeutung der Volkslehre Herders für die Entwicklung meiner Nation”. ’n Boek wat hy skryf oor die sage en sprokie in die Duitse letterkunde word nie gepubliseer nie. Sy kortverhaal “’n Jaar se loon” word opgeneem in die versamelbundel “Twaalf Afrikaanse Kortverhale” onder redaksie van Sarel Marais, terwyl G.H. FranzBruisende waters” in die versamelbundel “Mooi loop” opneem. Hy vertaal Theodor Storm se “Der Schillmelreiter” as “Die Skimmelruiter” in Afrikaans en hierdie boek word in 1946 gepubliseer. Sy gedigte word in 1946 deur D.J. Opperman en Fred le Roux opgeneem in[2]Stiebeuel”,[3] maar hy volg dit nie op met ’n selfstandige bundel nie. W.E.G. Louw tipeer sy gedigte in hierdie bundel as gedigte wat nou aansluit by die werk van reeds bekende digters en daar is dus nie werklik sprake van vernuwing nie[4]

Publikasies

[wysig | wysig bron]
Jaar Publikasies
1939 Bruisende waters
1945 Uit die buurt
1947 Wynand Pienaar
Vertaling
1946 Die skimmelruiter – Theodor Storm

Bronnelys

[wysig | wysig bron]

Boeke

[wysig | wysig bron]
  • Antonissen, Rob “Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede” Nasou Beperk Derde hersiene uitgawe Tweede druk 1964
  • Beukes, Gerhard J. en Lategan, F.V. “Skrywers en rigtings” J.L. van Schaik Bpk. Pretoria Eerste uitgawe 1952
  • Dekker, G. “Afrikaanse Literatuurgeskiedenis” Nasou Beperk Kaapstad Elfde druk 1970
  • Kannemeyer, J.C. “Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1” Academica, Pretoria en Kaapstad Tweede druk 1984
  • Kannemeyer, J.C. “Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2” Academica, Pretoria, Kaapstad en Johannesburg Eerste uitgawe Eerste druk 1983
  • Kannemeyer, J.C. “D.J. Opperman: ’n Biografie” Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 1986
  • Nienaber, P.J. “Hier is ons skrywers!” Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Eerste uitgawe 1949
  • Nienaber, P.J. et al “Perspektief en Profiel” Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Derde hersiene uitgawe 1969
  • Opperman, D.J. “Verspreide opstelle” Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 1977
  • Van Coller, H.P. (red.) “Perspektief en Profiel Deel I” J.L. van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 1998

Internet

[wysig | wysig bron]

Ongepubliseerde dokumente

[wysig | wysig bron]

Resensies

[wysig | wysig bron]
  1. Opperman, D.J. “Verspreide opstelle” Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 1977, bladsy 110
  2. Louw, W.E.G. “Van die stiebeuel in die saal” “Standpunte” Jaargang 2, no. 1, 1946
  3. Van Heerden, Ernst “Rekenskap” Tafelberg-Uitgewers Bpk. Kaapstad Eerste uitgawe Tweede druk 1971
  4. Standpunte Jaargang 2 no. 1 1946